
|
BEHEERLIGGAAMSLEDE |


|
VOORSITTER JAARVERSLAG |
|
Beheerliggaam |
|
INLEIDEND Gesien in die lig van veranderinge by Hoërskool Dinamika kan ons hierdie verslag beskou as die verslag van laastes. Dit is my laaste verslag as voorsitter van die skool se beheerliggaam. Die GDO het alreeds die datum van die verkiesing gepubliseer. Dit sal geskied in Junie 2009. Dit is ook ons hoof se laaste jaarverslag by Dinamika, aangesien hy die tuig (as hoof) neerlê aan die einde van die jaar.
Alhoewel ons nou in die pylvak van ons termyn is, wil ons u die versekering gee dat ons die wenpaal nog in oog het en dat ons nie voortydig gaan ophou met die wedloop nie.
In my vorige twee verslae het ek gebruik gemaak van die doelwit-verslagmetode. Ek bou graag voort op hierdie tradisie omdat doelwitte so belangrik is.
Die wêreld staan opsy om enigiemand verby te laat gaan wat weet waarheen hy oppad is. - David Starr Gordon -
DOELWITTE
Ouerbetrokkenheid: Baie dankie aan alle ouers vir u ondersteuning gedurende die jaar. Nie net vir u ondersteuning aan u kinders nie, maar ook die ondersteuning en vertroue wat u in ons gestel het. In hul topverkoper, South Africa The Solution, skryf Leon Louw en Frances Kendall dat ‘n onderwysstelsel waarin geen ouerbetrokkenheid is nie (met ander woorde burokrasie) as een waarin finansies die ondoeltreffendste aangewend word. Ons beoog `n groot jaar vir veral die ondersteunersklub in 2009. U word uitgenooi om die aktiwiteite van die ondersteunersklub as ouer by te woon.
Die daarstelling van 'n leerkultuur in 'n stimulerende, motiverende en verrykende leeromgewing: Ek staan verstom as ek hoor dat ons matrieks tot die laaste dag skool gegaan het. Dit is ‘n teken dat ons kinders se dissipline uitstekend is. Dit is moontlik as daar stimulasie plaasvind wat die leerders motiveer en verryk. Veels Geluk Dinamika personeel julle slaag met hierdie doelwit.
Ons streef na gesonde finansies: My opregte dank aan die Finansiële Komitee wat die finansies so goed hanteer. Die kontantvloei lyk gesond. Ten spyte van ekonomiese druk kan ons nogtans vol vertroue die pad vorentoe aandurf. As skool kan ons egter net suksesvol wees as u as ouers getrou u skoolgelde betaal.
Dinamiese bestuur van skool: Weens die samewerking tussen die beheerliggaam en die personeel onder leiding van die hoof en sy bestuurspan, kan ons verslag doen dat hierdie verhouding regtig gesond is. Dit is regtig ‘n voorreg om deel te wees van hierdie span. Bestuurslede met die bevoegdheid en gesag om die verskillende aktiwiteite van ‘n skool te beplan en te implementeer, is ‘n onmisbare voorwaarde vir ‘n effektiewe skool. Weens ‘n fout aan GDO se kant is die vakature van die hoof se pos nie in die Gazette geadverteer nie. Die pos sal eers vroeg in Januarie 2009 geadverteer word en sal teen 15 April 2009 gevul word. Mnr Vollaard, ons huidige adjunkhoof, is aangestel om waar te neem totdat die hoof aangestel word. Ons besef dat wanneer die persoon as hoof as ‘n voorbeeldstellende identifikasiefiguur ook kan aanspraak maak op gewildheid (onder die gemeenskap, personeel en leerders) kan hy net sy rol tot die maksimum vertolk. Ons glo Mnr Vollaard is so ‘n persoon en het volle vertroue in sy vermoë as waarnemende hoof.
Op en wakker vakkeuses vir die beroepswêreld: Skole ondervind al hoe meer druk om weens tekorte aan personeel vakke aan te bied. Onlangse berigte in die Beeld bevestig dat skole ‘n skaarste van personeel ondervind. Deur volharding en konstante werwing van personeel kan ons die voortsetting van ‘n wye keuse vakke verseker. Leerders moet die toepaslike bevoegdhede verwerf sodat hulle gereed is om tot ‘n diverse beroepsveld toe te tree.
Gesonde dissipline: Die belegging ‘n paar jaar gelede in die kamerastelsel, was voorwaar goeie waarde vir geld. Ons standaard van dissipline is egter nie net hieraan te danke nie, maar ook aan die werk van opvoedkundiges wat omgee. Robert Strauss het gesê “Sukses is ‘n bietjie soos om met ‘n gorilla te veg. Jy hou nie op wanneer jy moeg is nie, jy hou op wanneer die gorilla moeg is.” Dit voel soms of die dissiplinêre geveg in hierdie selfde kategorie val.
Prestasie georiënteerde onderwys: Die uitslae van die matriekeksamen is steeds die hoofaanwyser van prestasie en die versekering van standaarde binne die onderwysstelsel. Gemeet aan ons vorige jaar se uitslae kan ek met trots verslag doen dat ons uitslae van hoogstaande gehalte is. Sterkte aan die matrieks wat alreeds begin het met hul eindeksamen. Ons sit in afwagting op jul uitslae. Elke prestasie wat die moeite werd is, het ‘n prysetiket aan. Die vraag is of jy bereid is om die prys te betaal om dit te verkry – harde werk, opoffering, geduld, geloof en volharding. John C. Maxwell.
Uitdra van die skool se beeld na buite: Derduisende rande kan bestee word aan bemarkingsaksies, maar dit is hoegenaamd nie so doeltreffend soos die aksies van ons leerlinge, personeel en ouers nie. Optrede in skoolklere buite die skool speel ‘n ongelooflike rol. Ons vra in hierdie verband ook u samewerking as ouers. ‘n Skool se naam is sy inspirasie, dit word deel van sy tradisie en moet met trots gedra word. Om trots te wees op jou skool, beteken almal is bereid om met entoesiasme hard te werk aan die instandhouding en uitbouing van die goeie naam van die skool.
Skep van 'n veilige omgewing: Ons kan met trots aankondig dat ons stewig op pad is na die bereiking van hierdie doelwit. Die gereelde gesondheidsverslag aan die beheerliggaam getuig van ons erns in hierdie saak. Die onlangse aanstelling van ‘n persoon om verantwoordelikheid te neem vir beroepsveiligheid by die skool neem dit nou ‘n stap verder.
AFSLUITING Hiermee stuur ons die boodskap duidelik aan die wêreld, staan opsy ons weet waarheen ons oppad is Charles H Spurgeon het gesê “ Laat ons te midde van ons sukses na God uitroep om nederigheid” Sterkte aan Mnr Böhmer met sy toekomsplanne. As Christen het hy ons almal deurgaans geïnspireer en gelei. Die Here stap die pad saam met jou die toekoms in. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie – Josua 1:5
TER NAGEDAGTENIS Die woord medelye is so beskrywend en bevestig dat ons saam met almal ly wat ‘n geliefde gedurende die jaar aan die dood afgestaan het.
|
|
Voorsitter |
Arnold Greyling |
|
Onder-voorsitter |
Enies van der Merwe |
|
Sekretaresse |
Heila Heydenrych |
|
Finansies - Tesourier |
Wim Combrink |
|
Bemarking |
Nikkie du Plooy |
|
Fondsinsameling |
Eugene Venter |
|
Geboue, terrein, sekuriteit |
Erik Coetzer |
|
Juridies |
Adv. Anton Lerm Erik Coetzer |
|
Kultuur |
Mari van Jaarsveld |
|
Leerders |
Stefan Oosthuizen Chanté van Rhyn Mardi Nöffke |
|
Ondersteunersklub & Ouerskakeling |
Danie van Niekerk |
|
Personeel |
Anri Greyling Charmaine Spies Chris van der Schyf Piet Vollaard |
|
Sport |
Johan Schutte |
|
Tegnologie |
Smuts Marais |